DIE KLOP KLETS NUUSBRIEF – April 2024

SELFS ’N PLATSAK KERKMUIS KAN KOM KLOP BY AARDKLOP!

Beste Aardklopper

Hunker jy om deel te wees van die kunste en vermaak by Aardklop 2024, maar jou finansies lyk so beroerd soos ’n teerpad in die Vrystaat? Maklik: Raadpleeg die Aardklop-platsak-wenkegids!

Dit is propvol idees vir ’n kommervrye fees!

Kanna-benoemde produksies by Momentum Beleggings Aardklop

­Geluk aan almal wat vir Kanna-pryse benoem is by vanjaar se KKNK! Maak ’n aantekening om hierdie Kanna-benoemde produksies by jou Aardklop-program van 24 tot 29 September in te sluit:

Ken jy vir Dewie?

’n Ko-produksie tussen Momentum Beleggings Aardklop, die KKNK en Suidoosterfees. “Soms bly die lewe ’n skool. Grootmense word ook geboelie. Ons het ook seer. Al verskil is – jy leer om te praat. Ons kinders moet gehoor word – ’n stem kry. Dit is jou werk as ouer om te kyk, te luister en te praat.” – Margit Meyer-Rödenbeck, regisseur

Crystal-Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson

Die stoele

’n KKNK-produksie ondersteun deur Momentum Beleggings Aardklop en die Vrystaat Kunstefees, moontlik gemaak deur NATi. Die meesterlike Die stoele van Eugène Ionesco (1909-1994) word beskryf as ’n absurde “tragiese klug” oor ’n bejaarde egpaar wat voorberei vir die koms van ’n reeks onsigbare gaste. Marthinus Basson, regisseur, beskryf dit as volg: “Dit kyk met humor na ons wanbegrip oor ons eie waarde, die huwelik, liefde en menslikheid, maar bowenal die sin van die lewe.”

Antoinette Kellermann en Chris van Niekerk

Veelhoek

’n Ko-produksie tussen Momentum Beleggings Aardklop, die KKNK en die Vrystaat Kunstefees, moontlik gemaak deur NATi. Die vooraanstaande aktrise Jana Cilliers maak haar debuut as verhoogskrywer met Veelhoek. Dit is ’n gesprek tussen Cilliers en haar neef Barnard Gilliland, ’n belowende digter wat 60 jaar gelede op 24-jarige ouderdom oorlede is. Haar begrip van sterflikheid as ouerwordende aktrise ontvou binne haar gesprek met hom oor die mens se veelhoekige bestaan hier op aarde.

Jana Cilliers en Ludwig Binge

Ons is ook besonder trots op Aardklop se 2023-produksies wat ook vir Kannas benoem is: Die multidissiplinêre Braam en die engel, geskoei op Marietjie de Jongh se gelyknamige boek, wat almal in vervoering het met die magiese elemente en boodskap van hoop; en Goed wat wag om te gebeur van Philip Rademeyer, waarin ’n man wat terugkeer na sy grootwordhuis deur die spoke van die verlede gekonfronteer word.

Die Kanna-wenners word op Donderdag 9 Mei tydens ’n glansgeleentheid by Leopard’s Leap in Franschhoek aangekondig.

IN ’N NEUTEDOP

Met behulp van die Aardklop-platsak-wenkegids kan elke lewende siel, oud, jonk, groot en klein, selfs ’n platsak kerkmuis, daarna uitsien om deel te wees van die opwinding en feestelikhede by Aardklop 2024, waar daar iets van alles vir almal is!

Dring aan op jou reg om vry te wees en fees te vier. . . Sien jou in Potchefstroom. . . jy weet jy wil!

#aardklop2024 #hierkomons

Scroll to Top