Aardklop, 24-29 September. Feesterrein 24-28 September

DIE KLOP KLETS NUUSBRIEF – Maart 2024

Beste Aardklopper

Klop Klets is die opwindende nuwe naam vir Aardklop se maandelikse nuusbrief. Ons omarm die samewerkingsgees, die gevoel van gemeenskap en die vreugde van kuns en kultuur wat Aardklop so eiesoortig maak. Bly op hoogte van die jongste nuus en stories met elke uitgawe van Klop Klets!

Wat beteken die kunste vir jou? Is dit vir jou ’n oase van ontvlugting, ’n ruimte vir selfontdekking of ’n bron van inspirasie?

Ismail Mahomed, ’n direksielid van Aardklop wat tydens die 14de kykNET Fiëstas vir sy lewensbydrae tot die kunste vereer is, het sy siening van die kunste treffend verwoord: “Vir my is die kunste ’n plek van toevlug, hoop en optimisme. 

Dit bied vir my die ruimte om oor ons verlede te besin en sin daaruit te maak. Dit gee my die wysheid om betrokke te raak en ons huidige realiteite te konfronteer. Dit is ’n bron van inspirasie vir my om ’n beter toekoms vir ons almal voor te stel.”

TERUGBLIK OP KYKNET FIËSTAS

Aardklop wil graag elke kunstenaar, regisseur, vervaardiger, skrywer, verwerker, tegniese versorger, kostuumontwerper, beligtingsontwerper, komponis, verhoogbestuurder en lid van ’n tegniese span wat ’n benoeming of prys gekry het, gelukwens met hul uitstekende werk en hulle bedank vir hul bydrae tot die kunste en die samelewing in Suid-Afrika.

Aardklop se oes van 2023 het ook ’n paar wenners opgelewer.

1. Beste kinder- of opvoedkundige teater: Braam en die engel

Braam en die engel, geskoei op die gelyknamige boek van Marietjie de Jongh, is ’n magiese, multidissiplinêre teaterervaring wat die hele gesin betower, geskep deur die meesterlike Nico Scheepers. Die verhaal fokus op die krag van vriendskap, verbeelding en hoop. Hierdie produksie het vyf benoemings gekry en word beskryf as een van die teaterhoogtepunte die afgelope tyd.

Tydens die kykNET Fiëstas het Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop, gesê: “Pryse in die kunstebedryf is soms omstrede, en altyd moeilik bepaalbaar. Maar dis die wonder van teater en die kunste: Elke gehoorlid beleef ’n werk of produksie subjektief. Wat ’n geleentheid soos hierdie so kosbaar maak, is dat dit ’n samekoms van mense en kreatiewe geeste is. Vanaand ding ons nie met mekaar mee nie. Kyk om jou rond: Hier is geen afguns nie, net ’n warm samesyn van gees- en feesgenote.

Talle produksies en kunstenaars wat vereer is se wonderlike werk sou nie die lig kon sien indien dit nie vir samewerking, ondersteuning en wedersydse respek was nie.”

2. Beste vroulike byspeler: Antoinette Kellermann in Goed wat wag om te gebeur

Die produksie Goed wat wag om te gebeur het die teaterwêreld met sy kragtige boodskap aangegryp. Antoinette Kellermann het met die ontvangs van haar prys almal opreg bedank wat by die produksie betrokke was: Die regisseur, skrywer en stelontwerper, Philip Rademeyer, haar medekunstenaars, Gideon Lombard en Emma Kotze, die beligtingsontwerper, Andi Colombo, en die verhoogbestuurder, Amber Fox-Martin.

Die produksie is moontlik gemaak deur Momentum Beleggings Aardklop, die Toyota US Woordfees en NATi.

“Binne ons is heelalle, oneindigende moontlikhede.”
Goed wat wag om te gebeur

3. Beste prestasie in visuele kuns: Tafadzwa Tega vir Chisi Hachieri Musa Wacharimwa (A Seed Will Take Its Time to Grow)

Afkomstig van Harare en tans woonagtig in Kaapstad, verteenwoordig Tega se artistieke reis ’n diepgaande verkenning van die Zimbabwiese identiteit, wat beide die vreugdes en struikelblokke omvat wat deur
sy verspreide bevolking ervaar word.

Met sy aangrypende skilderye, dikwels geïnspireer deur roerende foto’s, vleg Tega naatloos temas van veerkragtigheid, ambisie en nostalgie saam, wat diepgaande kommentaar op die menslike ervaring bied.

VANDAG SE WÊRELD EN MÔRE SE KIND

“Ek droom van ’n plek waar geen kind êrens in die wêreld na ’n orkes van sirenes, geweerskote en bomme hoef te luister nie. Of na ’n plek waar kinders se herinneringe deur weermagtenkwaens, soldate en die ontneming van voedselvoorrade gegraveer word omdat ideologiese hebsug en selfsug politieke leiers hulle van hul basiese menslikheid ontneem. . . In tye wanneer politieke leiers hul menslikheid verloor, is dit die stemme van kunstenaars wat mense moet kalmeer, genees en wat hulle moet uitspreek teen die geweld wat kinders die geleentheid ontneem om in technicolour te droom.”
– Ismail Mahomed

Ken jy vir Dewie? debuteer by KKNK

­Ken jy vir Dewie?, geskryf deur Ilne Fourie en met Margit Meyer-Rödenbeck as regisseur, het by die KKNK gedebuteer. Crystal Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson is daarin te sien.

Dewie de Jager is ’n alledaagse ou, nie die soort teen wie moeders hul dogters waarsku nie. Hy is die stil, glimlaggende tipe wat gou wegkyk. Wat was sy naam nou weer? Deon? Dewald? Dit maak nie saak nie! Maar in al hierdie alledaagsheid, smag hy na aanvaarding, om te behoort, en ’n legende te word waaroor almal praat. Hy wil gesien word oral waar jy kyk: op klaskamermure, op voorblaaie en in Google-soektogte. Hy wil die redder wees van elke verlore siel wat homself moet verdedig tydens pouse.

Hierdie ko-produksie van die Suidoosterfees, KKNK en Momentum Beleggings Aardklop, ondersteun deur NATi, gaan ongetwyfeld ’n hoogtepunt wees by Aardklop 2024.

Laaitie mettie biscuits

­Laaitie mettie biscuits van die bekroonde skrywer en regisseur Christo Davids word in samewerking met die Markteater aangebied en is moontlik gemaak deur AK21.

Abnormaal in ’n normale samelewing of normaal in ’n abnormale samelewing? Maar uiteindelik gaan dit oor erkenning. Ons almal het die behoefte dat ons menslikheid erken word. Hierdie is die verhaal van Nathan, ’n 17-jarige seun met Down se sindroom, wat sterre in sy oë het en droom om ’n polisieman te word. Eendag sal hy sy enkelouer-ma versorg en sy gemeenskap beskerm. Op sy daaglikse tog om
koekies by die plaaslike winkel te gaan koop, word Nathan deur die polisie doodgeskiet. Die polisiebeamptes betrokke is nou besig met ’n doofpot-operasie. . .
Wie is normaal en wie is abnormaal?

“Wat het my kind gesê voor hy dood is? Het hy na my geroep?” – Laaitie mettie biscuits

HET JY GEWEET?

­Het Jy Geweet? #1

Jou MAA se. . . fees!

Daar is sommige kunstenaars wat al sinoniem met Aardklop geword het. Saam het jou MAA vir onvergeetlike feeste gesorg.

M: Margit Meyer-Rödenbeck
A: Amanda Strydom
A: Anna Davel

Margit is soos ons almal weet steeds doller as kop-af, en kan nie aan een Aardklop dink waar Liewe Heksie, Dowwe Dolla of sy wat Margit is nié by die fees was nie, hetsy as skrywer, vervaardiger, regisseur of akteur.

Anna sukkel ook om aan ’n Aardkloplose jaar te dink. Dalk is dit omdat sy as student tydens die fees te veel gekuier het dat die geheue bietjie vaag begin raak. Maar Anna se ma het bevestig dat sy nog nie een enkele Aardklop gemis het nie! Van ’n verhoogbestuurder, lid van Cutt Glas, agtergrondsangeres en ’n produksiebestuurder tot ’n verstommende solo-kunstenaar en musiekregisseur kom dié oud-Potchefstromer jaarliks tuis by Aardklop!

Met Amanda se geheue skort daar gelukkig niks. Sy onthou in fyn detail elke jaar se fees sedert sy ontstaansjaar: Van haar produksie Hotel Royale, die vitamien B12- inspuitings en deurnagreise vanaf Amsterdam na Potch tot haar verblyf in haar gunstelingkamer by die Willows Garden-hotel.

Waarmee gaan jou MAA jou hierdie jaar verras?

IN ’N NEUTEDOP

JA, DIT IS JOU REG OM FEES TE VIER! B&V geld:
Solank dit by Momentum Beleggings Aardklop is.
Laat ons feesvreugde voortduur!

#aardklop2024 #hierkomons

Scroll to Top