Mei maggies, die tyd stap aan – KLOP KLETS, Mei 2024

Dagsê ’klopper

Michelangelo het die Medicis gehad en Da Vinci die Sforzas. Shakespeare het sommer ’n klomp gehad. Sonder dié weldoeners (patrons) sou die kunste vandag baie anders gelyk het. Ons sou nie weet wie Michelangelo en Shakespeare is nie.

Later is dié rol dikwels deur die staat oorgeneem, maar in ’n land soos SA met sy erge ekonomiese uitdagings is daar meer noodsaaklike gate wat toegestop moet word.

Hoekom moet jy omgee? Die nare waarheid is goed kos geld, en Aardklop is innig dankbaar aan ons borge en elke liewe mens wat ’n kaartjie koop. Maar ons moet ook belê in die toekoms van die fees en sorg dat dit volhoubaar is. Daarom het ons Hartsvriende. Met dié inisiatief kan jy ’n jaarlikse bydra tot die kunstefees lewer, van so min as R500 vir 12 maande.

Wat kry jy daaruit? Natuurlik beteken dit jy’s ’n beter mens. Maar alle grappies op ’n stokkie. Hartsvriende kry allerhande voordele. Gaan lees meer daaroor hier.

Kom nou, wat is ’n vyfhonderdrandjie tussen vriende?

Kanna jy nou meer?

Veels geluk aan al die wenners van die KKNK se Kanna-pryse! En in die besonder ook geluk aan die produksies wat later vanjaar by Aardklop te sien sal wees.

Die stoele het met die drie grotes weggestap: beste vroulike speler in ’n hoofrol (Antoinette Kellermann); beste manlike speler in ’n hoofrol (Chris van Niekerk), en beste aanbieding: toneel.

Dan is daar ook Eldon van der Merwe, wat aangewys is as die beste manlike speler in ’n ondersteunende rol in Deon Meyer en Coenie de Villiers se Roem: ’n Musiekverhaal, wat ook by Aardklop 2024 gaan wees.

En, laaste maar nie die minste nie, het vanjaar se Kanna vir uitnemende literêre bydrae gegaan aan Philip Rademeyer vir Goed wat wag om te gebeur, wat verlede jaar by Aardklop was en daar ook bekroon is as beste nuutgeskrewe teks. Wys jou net, ons ken ’n wenner as ons een sien!

Die volledige lys van wenners is hier te vinde.

Vingers op die knoppie . . .

Kaartjieverkope vir 2024 se Aardklop open op 17 Junie by Ticketpro. Tensy jy ’n Hartsvriend is, want dan kry jy vroeë toegang. Pro tip: Blaai deur die program (sodra hy uit is) en bespreek solank vir die shows wat jy weet vinnig uitverkoop gaan wees.

Psssst . . . die geheim is uit

Die program is nog nie amptelik bekendgestel nie, maar ons kan jou al sê dat Coenie de Villiers en Deon Meyer se Roem: ’n Musiekverhaal ook Aardklop toe kom!

Ons weet nie van jou nie, maar ons kry skoon hoendervel. Hierdie twee is immers legendes in die Afrikaanse taallandskap. Van die land se beste akteurs en musikante is te sien in hierdie produksie, wat ook benoem is vir die Kanna vir beste literêre bydrae.

Ons kannie waggie!

Terloops

Die Aardklop-bytjies is druk besig met die program, wat binnekort bekendgestel word.

Hou ons sosiale media dop – en #SienJouInSeptember!

#aardklop2024 #hierkomons

Scroll to Top