Wenners, wenners, wenners! 🏆🏅 KLOP KLETS, November 2024

Dagsê ’klopper!

Net toe jy wil-wil van ons vergeet, maak ons nog vir oulaas in 2024 ’n draai in jou inboks. Ons het nuus – die wenners van vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop-toekennings is pas bekend gemaak! En omdat ons van jou hou, laat ons jou sommer eerste weet.

Almal het hul mooiste kerkklere aangetrek, hulle hare gekam en hulle makeup opgesit en op 1 November bymekaargekom vir ’n glansryke toekenningsgeleentheid by Loft at Nine in Menlopark. En was dit nou vir jou ’n fênsie affêre!

Alexa Strachan, die feesdirekteur en mos ook ’n performer, het self die verrigtinge behartig en die wenners aangekondig.

Laat ons nie verder doekies omdraai nie.
Hier volg die sterre wat in 2024 uit 38 finaliste die blinkste by Aardklop geskyn het:

Geluk aan vanjaar se wenners vir die Aardklop-toekennings, waarvan die wenners op 1 November bekend gemaak is:

BESTE BYSPELER
David Viviers – Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan

BESTE MUSIEKUITVOERING
Die Charl du Plessis Trio – vir Vivaldi Vier Seisoene

BESTE AKTRISE
Antoinette Kellermann – Die stoele

BESTE AKTEUR
Frank Opperman – Stinkhout

BESTE UITSTALLING
Ek sien jou / Sawubona / I see you –
kurator: Rory du Plessis

BESTE NUUTGESKREWE AFRIKAANSE TEKS
Stinkhout – teks: Philip Rademeyer

BESTE REGISSEUR
Marthinus Basson – Die stoele

HARTSVRIENDE-TOEKENNING
Stinkhout

TOEKENNING VIR GRENSVERSKUIWENDE WERK (slegs debuutwerk)
Mass for the Good Princes

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE
Mass for the Good Princes

BESTE TONEEL-PRODUKSIE
Stinkhout

BESTE ALGEHELE AANBIEDING
Mass for the Good Princes

Dankie aan die beoordelaars, wat vanjaar werklik moes kopkrap omdat daar soveel uitstekende werk gelewer is. Die mense wat van produksie na produksie en venue na venue geskarrel het om by almal uit te kom – en nie eens daarvoor betaal is nie! – Heidi Edeling, Diane de Beer, David Brink, Mortimer Williams, Jaco van der Walt, Netanja Brink en Dr. Annemi Conradie.

Terloops . . .

­Dis altyd ’n klein bietjie hartseer wanneer die fees verby is, die pryse uitgedeel is en almal hul onderskeie rigtings inslaan ter voorbereiding vir die vakansieseisoen. Die goeie nuus is Aardklop se datums vir volgende jaar is reeds vasgemaak (skryf daar in jou dagboek 7-12 Oktober 2025), en ons begin sommer al klaar daarna uitsien om jou terug te verwelkom vir nóg ’n fees vir die boeke.

Tot dan, mooiloop en veilig reis.

#aardklop2025 #hierkomons

Scroll to Top