Die program is hier – kom vang saam FEESgees!

Dagsê, ’klopper!

Genugtig, die tyd vlieg. Net anderdag nog het ons die feesdatums vir 2025 se Momentum Aardklop aangekondig (7-12 Oktober, en 7-11 Oktober vir die feesterrein, ingeval jy vergeet) en nou is die program ook met groot fanfare bekendgestel!

Vanjaar se bekendstelling was ’n moewiese lekkerte – letterlik. Ons het dinge so ’n bietjie anders as gewoonlik aangepak, en gaste by die twee geleenthede – een in Pretoria en een in Potchefstroom – kon knars aan springmielies en slurp aan Slush Puppies terwyl hulle op ’n spesiale fliek getrakteer is.

Maar moenie afgeskeep voel nie, liewe ’klopper, jy kan ook deel wees van die FEESaksie. Kyk gerus die fliek hier:

Die volledige feesgids is nou beskikbaar by aardklop.co.za – gaan kyk gerus. Ons is supertrots op ons KUNSbaba! Daar is regtig iets vir elke smaak, gier – in die huidige ekonomiese klimaat – begroting. Die boekie is ook as ’n aflaaibare PDF beskikbaar. Maar soos altyd, hou ons webwerf en sosiale media dop vir die allernuutste nuus, en dinge wat op die nippertjie verander.

Al wat jou nou te doen staan, liewe ’klopper, is om ’n koppie tee (of ’n knertsie) te skink, die program goed deur te kyk en dan te besluit wat jy graag wil sien. Gryp dan jou bankkaart, en koop kaartjies by Webtickets

Askies, maar hoekom is jy nog hier? Ons dog jy koop al!

Momentum Aardklop se vreeslose leier, die feesdirekteur Alexa Strachan, het veel te sê oor 2025 se program. En ons kan haar nie blameer nie – dit ís immers ’n volronde, veelsydige, veelvlakkige viering van die kunste in al sy fasette.

“25 is die jaar van gróót KUNSskierigheid oor wat ons by Momentum Aardklop gaan aanvang en aanvuur! Nataniël en Charl du Plessis is só KUNSdriftig hieroor dat hulle spesiaal vir ons NATANIËL + CHARL: 25 skep.”

Die geliefde Nataniël is volksbesit – en al so te sê ’n instelling by Momentum Aardklop. Vanjaar is geen uitsondering nie, en dié produksie is eenvoudig onmisbaar.

“2025 is ook die jaar waartydens ons gepas hulde bring aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters,” voeg Alexa by.

Die bekroonde dramaturg Athol Fugard is in Maart vanjaar in die ouderdom van 92 jaar oorlede.

“Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.” Hierdie koproduksie geskied in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Belofte van vere bring op sy beurt hulde aan Breyten Breytenbach in ’n spesiale program met opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings. Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa – aan die hand van haar voorlesing vroeër vanjaar by haar pa se huldigingsbyeenkoms.

Van SA se voorste kunstenaars (onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen en Laurinda Hofmeyr) nooi die gehoor saam op reis om die beste te beleef van Breyten – die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”. Die artistieke regisseur is Anna Davel en die bekroonde Phillip Rademeyer behartig die spelleiding.

Verwelkingslied is op sy beurt die laaste toneelstuk uit Breytenbach se pen. Dit is kort voor sy dood verlede jaar voltooi, en opgedra aan onder andere Antoinette Kellermann, wat die rol van ’n ouer verhoogaktrise vertolk. Saam met haar is Dawid Minnaar, wat die rol van Breyten vertolk. Ouer teatergangers sal onthou dat Minnaar ook in die hoofrol van Breyten se heel eerste toneelstuk, Boklied, te sien was, wat in 1998 by die KKNK debuteer het.

Die regie is behartig deur Marí Borstlap, en dit is ’n koproduksie tussen Momentum Aardklop en die Suidoosterfees. Dit het in April in die Kunstekaap-teater in Kaapstad debuteer, tot groot lof van kritici.

#MomentumAardklop2025 #DieKunsVanFees

Scroll to Top