Dagsê ’klopper
As jy hier lees, het ons jou ook al laat weet die program is nou amptelik bekendgestel* en jy kan kaartjies koop. Jippie!



We’ve come a long way, baby! Net vier jaar gelede het dinge maar duister gelyk. Maar danksy harde werk, deursettingsvermoë en die ondersteuning van borge en die publiek – jy, ja jy wat hier lees – het dié fees soos die spreekwoordelike feniks uit die as verrys.
Is dit nie heerlik nie? Ons weet nie van jou nie, maar ons raak elke dag ’n bietjie meer opgewonde.
*Volg ons op sosiale media vir ’n video van die twee amptelike bekendstellings – een in Pretoria en een in Potch.
Wil jy dit eerste sien?
Die akteurs se gesigte is dalk bekend, maar die volgende produksies is spik-splinternuut en debuteer by vanjaar se Aardklop.

Laaitie mettie biscuits, met regie en teks deur Christo Davids, handel oor die plek van ’n gestremde in die gemeenskap, en vra die gewigtige vrae: Wat beteken dit om “anders” te wees? Hoekom ontneem ons diegene wat anders is so gereeld van hoop?


Stinkhout deur Philip Rademeyer, met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt, handel oor ’n pa en seun wat mekaar probeer vind, maar telkens in hul eie pad staan. En dan is daar Joanie Combrink en Laurinda Hofmeyr se -Loos, ’n woordkuns- en musiekproduksie met bydraes deur verskeie digters wat al die fasette van verlies deernisvol ondersoek.

Op ’n ligter trant is Marion Holm terug, dié keer in die gedaante van ene Marion Monroe. “Dit is nie ernstig of diep nie, net snaaks,” waarsku dié veteraan komediant. En die geliefde Magda Louw (Desiré Gardner) is ook weer hier met ’n splinternuwe episode in dié karakter se lewe in ’n Les in kletterkunde – lag met ’n traan is bykans onafwendbaar.
Klikketie-klak, kry jou kaartjies nou!
Kaartjieverkope het reeds geopen. Hier’s wat jy doen:
- Bestudeer aanlyn die feesprogram, wat ook as ’n aflaaibare dokument beskikbaar is, of kry jou boekie by die feeskantoor in Potch.
- Vat jou bankkaart en haas jou aanlyn na Ticketpro of, as jy in Potchefstroom is, kan jy ook by die feeskantoor gaan koop.
- Koop jou kaartjies, en siedaar – jy’t iets om na uit te sien in September!
Toemaar, ons het nie vergeet nie . . .
Soos altyd is die feesterrein die hartklop van die fees. Hier vind jy stalletjies by die dosyne, eetgoed, vermaak – en kan jy net lekker saamkuier. Van die sangers na wie jy op die terreinverhoog kan uitsien, is onder andere Bobby van Jaarsveld, Early B, Refentse en – vir die eerste keer by Aardklop – Jesse Clegg.
Daar is twee opsies vir terreintoegang (wat ook die vermaak op die feesverhoog insluit): ’n dagkaartjie teen R120 of (bargain!) toegang vir die hele week teen net R360.
Terloops…
Daar wag lekker verrassings in Julie, maar ons kan nie nou al die aap uit die mou laat nie. Hou dus jou oog op ons sosiale media – en dan sien ons jou in September!
#aardklop2024 #hierkomons