Momentum Beleggings Aardklop keer terug na Potch

Blydskap, opwinding en afwagting in Potch.
 

Op Dinsdag 14 Maart het Momentum Beleggings Aardklop saam met ou en nuwe vriende die volledige terugkeer van die fees na sy wortels gevier.

Alexa Strachan, feesbestuurder, het gesê dat die emosies herinner aan 2016 se herlewing van die fees. Sy het beklemtoon dat die ondersteuning van die NWU Potchefstroomkampus van onskatbare waarde is, en alle plaaslike sakelui, gastehuise en inwoners genooi om die die fees se sukses te help verseker. Sy het bygevoeg dat die dorp se ekonomie ‘n lekker hupstoot kry, omdat die fees baie plaaslike diensverskaffers gebruik: “90% van alle onkostes rakende die feesterrein, word plaaslik aangegaan. Besighede baat dus baie by die fees.”

Fränzo Friedrich, Momentum Beleggings se Hoof van Bemarking se boodskap oor die voortbou op 2022 se suksesse was geesdriftig. Hy het Aardklop as ‘n nasionale kuns- en kultuurbate beskryf, en met trots Momentum Beleggings se voortgesette verbintenis met die fees beklemtoon. “Ons sien uit daarna om nuwe bande in Potchefstroom te smee, en om die interessante en opwindende pad met die bestuur van Aardklop te stap.”

Jonathan Baron van BKD Ouditeure het gesê: “Ons as Potchefstroom Sakekamer en sakelui is ongelooflik trots op wat julle tydens en na die pandemie gedoen het om te verseker dat Aardklop steeds hier is, en terug is in Potch.” Hy het die geloof uitgespreek dat 2023 se fees ‘n reuse sukses gaan wees, met Gautengers wat oudergewoonte op die dorp sal toesak. Hy het ook benadruk dat die plaaslike gemeenskap alles moontlik sal doen om die fees te ondersteun.

Plaaslike Aardkloppers het oor ‘n glasie Hermanuspieterfontein geesdriftig deelgeneem aan die gesprekke, vrae gevra en voorstelle gemaak tydens die gesellige kuier by The Roots.

Aardklop se program sal op 13 Junie in Potch bekend gemaak word, waarna Potchefstromers, BEELD-lesers en Aardklop se Hartsvriende oudergewoonte eers die geleentheid gegun sal word om kaartjies te bespreek vanaf 16 Junie. Nasionale kaartjieverkope sal op 19 Junie open. Die feesterrein sal weereens op die Fanie du Toit-Sportgronde ingerig word.

Momentum Beleggings Aardklop: 3 – 8 Oktober 2023 in Potchefstroom, hier kom ons!

Scroll to Top