Aardklop, 24-29 September. Feesterrein 24-28 September

Momentum Beleggings Aardklop 24-29 September 2024. Maak daai dagboek nou oop!

BESTE AARDKLOPPER

Skreeu dit van die dakke af sodat almal kan hoor en sien, skryf dit op die tafels van jul harte! Momentum Beleggings Aardklop is op pad! Maak daai dagboeke oop, skakel al jou vrinne en familie, want in September is dit feestyd in Potchefstroom!! #aardklop2024 #hierkomons

Ons hoop dat jou 2024 reeds gevul is met vreugde, vrede en voorspoed!
Die Aardklop-span is reeds hard aan die werk om te verseker dat vanjaar se fees, wat gedurende die skoolvakansie van 24 tot 29 September plaasvind, ’n ongeëwenaarde hoogtepunt in jou jaar sal wees.

WAT KAN JY VERWAG?

Aardklop 2023 was sonder twyfel ’n onvergeetlike fees.
Indien jy dit misgeloop het, loer gerus.

En maak jouself gereed. . . Aardklop 2024 gaan eweneens ’n onvergeetlike ervaring wees! Jy kan uitsien na enigiets van meesleurende dramas en lekkerlag-komedies tot musiek uit die boonste rakke en heerlike leefstylervarings.

By The Roots vind daar tydens die fees daagliks aktuele en interessante boekgesprekke in die Sonkamer plaas. Kom besoek ook die ATKV Boeke-oase, geniet smullekker verversings by die Roots Kafee of geniet sommer net ’n heerlike glasie wyn terwyl jy rustig ontspan. The Roots is ’n rustige kuierplek en huisves ook tydens die fees die Aardklop-feeskantoor en die sentrale Ticketpro-verkoopspunt.

Op die hooffeesterrein by die Fanie du Toit-sportgronde, langs die walle van die Mooirivier, gaan feesvreugde tot laatnag ervaar word. ’n Lekker kuierplek vir die hele gesin tussen kunsvlyt- en kosstalletjies, vermaak vir oud en jonk, en natuurlik veilige parkering!

Met die gewaardeerde ondersteuning van die NWU Potchefstroomkampus gaan Eskom dit ook nie regkry om feesterreingangers kragte-, klank- of woordeloos in die bos in die donkerte te los nie.

PROGRAMBEKENDSTELLING

Talentvolle kunstenaars van oor die land heen doen reeds in groot getalle aansoek om deel te wees van vanjaar se gatskop-Aardklop-feesprogram.

Die finale program sal middel Junie bekend gemaak word.

’n Klein lusmakertjie! Bekendes soos die geliefde en flambojante Nataniël bring sy grootse MASS FOR THE GOOD PRINCES na Potchefstroom en die liefling-aktrise Sandra Prinsloo sal te sien wees in (ja, jy lees reg) Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan.

EN IN ANDER GOEIE NUUS

Ons het etlike Fiëstas-benoemings ontvang en die afwagting is groot! Ons hou jou op hoogte van die wenners, wat op 7 Maart aangekondig word.

Aardklop se benoemings sluit in:

AARDKLOP-MEESTERSTUKKE OP DIE KKNK-VERHOOG

Ons sustersfees KKNK vind plaas van 23 tot 30 April. Twee van ons eie produksies, Braam en die engel en Goed wat wag om te gebeur, is absoluut onmisbaar. Gaan loer na die volledige KKNK-program en kuier saam in Oudtshoorn.

POTCHEFSTROOM MAAK GEREED VIR JOU!

Baie dankie aan die NWU Potchefstroomkampus, en ander plaaslike besighede soos die Elgro Hotel, The Willows Garden Hotel, HBPS Consulting en Webnic, wat reeds hul harte vir Aardklop en feesgangers oopgemaak het. Saam sit ons die “klop” in Aardklop, en sien ons uit om jou by Momentum Beleggings Aardklop 2024 te verwelkom!

#aardklop2024 #hierkomons

Scroll to Top