Felias en Pokkel

Momentum Beleggings Aardklop bied aan: Felias en Pokkel.

Felias en Pokkel is Jakkie Louw se splinternuwe poppekaskonsert. Dit is eintlik ’n “one man and eight puppets”-konsert. Die storie handel oor twee veldmuise in boer Jakkie se huis. Felias is ’n slim, lang, maer muis met ’n brilletjie en Pokkel ’n kort, ronde, jong muis met ’n groen hoedjie op sy kop. Pokkel het baie vragies oor waar melk, koffie, plastiek en die suiker vandaan kom. Felias staan bont om te verduidelik, en dan moet hulle ook nog die honger kat dophou! O ja, en daar is sowaar ’n pratende donkie ook! Jakkie het die storie uitgedink en al die musiek geskryf, met liedjies soos “Die dae van die week” en “Moenie bang vir die kat wees nie”. Jakkie doen die twee muise se stemme self. Hy het egter van sy bekende vriende gekry om die ander karakters te doen. Stemme deur Lizz Meiring (Patat die Kat, Skaai die Kraai, Tienie die TV-vlieg), Hannes Brümmer (Vrottie Kokkerottie, Chris die Verkleurmannetjie en Laventel die Plaashaan) en Richard van der Westhuizen (Eeeejonkie Donkie en Die Tandemuis). ’n Snaakse, oorspronklike produksie wat gaan sorg vir baie komedie en opwinding en dit is vir seker lekker vir die ouers ook. Jaco Jacobs het die drie boeke geskryf wat te koop sal wees ná die konsert. 

Met: Jakkie Louw en die opgeneemde stemme van Lizz Meiring, Hannes Brümmer en Richard van der Westhuizen
Oorspronklike storie en musiek, regie en musiekregie: Jakkie Louw
Teks: Jaco Jacobs

Genre: Kinderteater
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 45 min.
Gradering: Gesin
Venue: Girls High
Datum en tyd: 4 Okt 09:00, 5 Okt 11:00, 6 Okt 13:00
Kaartjies: R100

Scroll to Top