Mirakel

Momentum Beleggings Aardklop bied aan: Mirakel.

Dis 1938. Met die Depressie sukkel mense om te oorleef. ’n Teatergeselskap onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré bevind hulle in ’n klein dorpie in die hoop om ’n bietjie verligting te bring met ’n opvoering en sodoende ook die baie leë geldkoffer weer ’n bietjie aan te vul. Maar een van die spelers, die jong Abel, kom oorspronklik van die dorp en is steeds getroud met die stinkryk en heelwat ouer Anna. Maar sy liewe Lenie verwag nou sy kind. Dan daag Anna op met ’n mandjie vol kos en die verhongerde geselskap moet begin kies tussen oorlewing en verraad, idealisme en realiteit. Hierdie bittersoet drama-komedie uit die pen van die magiese Reza de Wet is steeds net so vars en in gesprek met ons huidige realiteit ná Covid-19 en in ’n steeds tuimelende ekonomie.

Dawid Minnaar ontvang die Kanna-prys vir beste vertolking

Regisseursnota – Marthinus Basson
Reza de Wet se Mirakel is die middelste deel van haar Vrystaat-trilogie: Mis, Mirakel en Drif.

Die eerste en die derde stukke spel in die nag af, Mirakel vind plaas gedurende die dag en sy plaas dit in ’n vervalle klein Rooms-Katolieke kerkie waar ’n groep verhongerde spelers hoop om ’n misteriespel uit die Middeleeue te speel vir ’n gehoor van Vrystaatse plattelanders. Miskien juis die ligste van die drie omdat dit lig nodig het om die donker duidelik te kan sien.

Die stuk is geplaas in 1936 ná die Depressiejare en die platteland is ontvolk. ’n Ryk familie het die grond opgekoop van die sukkelaars wat hul pad na die myne moes vind. Abel is een van diesulkes. Maar hy het gevlug uit ’n onmoontlike huwelik en ’n akteur geword. En die dorp waar hulle vanaand gaan speel, is inderdaad waar hy vandaan kom.

Met dié klein gegewe weef Reza de Wet ’n mirakel van ’n stuk. Op haar slinkse manier en met ’n besondere fyn humorsin vra sy groot vrae oor keuses, toewyding, die waarde van toneel en wat dit verg om ’n ware kunstenaar te wees. Sy put uit haar voorliefde vir die rondreisende geselskappe van Paul de Groot en André Huguenet, waarmee sy grootgeword het en wat baie op Senekal kom kuier het en waar die akteurs onthaal is deur haar ma wat vir ’n tyd lank self ’n verhoogbestuurder was.

Sy roep ’n vergane wêreld kristalhelder op. En ons kan ons só duidelik daarin sien en herken in hierdie tyd ná die Covid-pandemie waar soveel hervat en herbou moet word. Hierdie besonderse vrou het reeds soveel van ons se lewens as spelers en publiek aangeraak oor die jare. Sy het my lewe persoonlik intens verryk en is absoluut die naam as ons grootste dramaturg waardig.

Met: Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith, Eben Genis
Teks: Reza de Wet
Regie: Marthinus Basson
Beligtingsontwerp en verhoogbestuur: Nicolaas de Jongh
Vervaardiger: KKNK
Moontlik gemaak deur: NATi en die KKNK

Genre: Drama-komedie
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 130 min. pouse ingesluit
Gradering:  Geen o.16 (T/D/V)
Venue: Elgro Hotelsaal
Datum en tyd: 3 Okt 13:00, 4 Okt 09:30, 6 Okt 18:00, 7 Okt 09:30 & 13:30
Kaartjies: R220, R200 (Aardklop Hartsvriende)

Scroll to Top